Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 22 NOVEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750; 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die afsterwe van John Hughes, K6MB, op 16 November, na ’n beroerte, aangekondig moet word. John was goed bekend onder die Suid-Afrikaanse DX-ers en kompetisiedeelnemers. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en baie vriende.

(POUSE)

Vandag in die nuus:

INTEGNET VANAAND

KRY ’n VROEË KERSGESKENK

OPSTELKOMPETISIE SE SLUITINGSDATUM UITGESTEL

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

INTEGNET VANAAND

Vanaand keer die SARL-integnet terug na ’n paar maande se stilte. Die onderwerp is "SO67 - SumbandilaSat”, Suid-Afrika se tweede satelliet. Die aanbieders is Hannes Coetzee, ZS6BZP, wat saam met Andrew Roos, ZS6AA, verantwoordelik was vir die amateurradio-loonvrag. Ander deelnemers is Jan-Albert Koekemoer, ZR1JAK, van SunSpace, wat ’n sleutelrol gespeel het in die ingebruikneming van die satelliet en Allan Saul, ZS1LS, wat die deeglike toetsing gedoen het.
Integnet is op die lug om 19:30 SAT op ’n herhaler naby u. Dit is ook beskikbaar op Echolink en op die webstroom deur ZS6FCS. Besoek www.amateurradio.org.za/armi.htm vir besonderhede.

KRY ’n VROEË KERSGESKENK

As u nie ’n lid van die SARL is nie, of ’n persoon wie se lidmaatskap meer as 18 maande gelede verval het, kan u vir uself ’n kersgeskenk besorg deur aan te sluit voor 5 Desember teen die halfjaar-tarief. U kry Desember gratis, asook ’n kopie van die November/Desember-uitgawe van Radio ZS.
Hierdie aanbod geld nie vir persone wie se lidmaatskap op 1 Julie vanjaar verval het nie. As u in hierdie groep is, betaal die agterstallige ledegeld en maak seker u kry die volgende uitgawe van Radio ZS.
Elke dan en wan word die vraag gevra waarom ek by die SARL moet aansluit?
Die Suid-Afrikaanse Radioliga is die Nasionale Liggaam vir Amateurradio in Suid-Afrika en ’n direkte skakel met die Departement van Kommunikasie, die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (OKOSA) en verskeie ander staats- en nie-staatsorganisasies. In die daaglikse lewe sluit mense by verskeie organisasies aan, party omdat die wet dit bepaal, ander weens die voordele vir individue en hul beroep, sport of stokperdjie. Radioamateurs verkry, deur die SARL, die volgende:
(1) VERTEENWOORDIGING OP NASIONALE VLAK
Die SARL verteenwoordig alle radioamateurs wanneer daar met die owerhede geskakel word om te sorg dat die amateurspektrum beskerm word. ‘n Goeie ledetal van die SARL verseker ‘n verteenwoordigende magsposisie.
(2) INTERNASIONALE VERTEENWOORDIGING
Die SARL is ’n lid van die Internasionale Amateurradiounie (die IARU), wat radioamateurs by die Internasionale Telekommunikasieunie (ITU) verteenwoordig. Dié organisasie reguleer die internasionale frekwensiespektrum. Die IARU werk voortdurend agter die skerms by die Wêreld-radiokonferensies om te verseker dat amateurfrekwensies beskerm, en selfs uitgebrei word. Die IARU verkry sy status deur die radioamteurverenigings van die onderskeie lidlande, soos die SARL, wat verteenwoordiging in hul onderskeie lande het.
(3) INLIGTING OOR DIE NUUTSTE TEGNOLOGIE
Deur middel van ’n interaktiewe webwerf, weeklikse nuusbulletins, Radio Tegnologie-in-aksie, simposia en ’n tweemaandelikse publikasie – Radio ZS – hou die SARL radioamateurs op hoogte van nuwe tegnologie.
Sou dit nie beter wees as u deel hiervan is, en nie net ’n bystander nie? Ons is seker dat as u die drie redes hierbo genoem in ag neem, dat u ook ’n lid sal wil wees. As u reeds ’n lid is, baie dankie vir u ondersteuning.

LEDEGELD IN DIE VERKEERDE REKENING INBETAAL

Mariska vra dat die radioamateurs, wie se roepseine hier onder aangegee word, haar spoedig by die NARS moet kontak oor hul ledegeld wat foutiewelik by Standard Bank, in plaas van die ABSA-rekening, inbetaal is. Mariska kan by 011 675 2393 of per e-pos na admin@sarl.org.za gekontak word.
Die radioamateurs is:
ZS1ZU, ZS2AG, ZS2KW, ZS2-0273, ZS3G, ZS4NS, ZR5SEP, ZS5DCF, ZS5R, ZS5UA, ZR6APX, ZR6ARV, ZR6DG, ZR6NHA, ZS6BHE, ZS6BYQ, ZS6DGB, ZS6EU, ZS6IGR, ZS6KO, ZS6PHW, ZS6POT en ZS6TAF.

Net weer Mariska se besonderhede: 011 675 2393 of e-pos na admin@sarl.org.za.

NOMINASIES VIR DIE SARL-RAAD

Lede word herinner dat nominasies op 30 November sluit. Is u area verteenwoordig? Dit is nou tyd om aksie te neem.

OPSTELKOMPETISIE SE SLUITINGSDATUM UITGESTEL

Die sluitingsdatum vir die Ruimte-opstelkompetisie vir leerders is uitgestel na 15 Januarie 2010, om leerders, wat die afgelope twee maande eksamens geskryf het, meer tyd te gee om die opstel te voltooi. Intussen het die lys met pryse gegroei. Besoek gerus www.amateurradio.org.za.

HAMNET WES-KAAP

Daar is besluit dat, vanaf 25 November 2009, die Woensdagaand-bulletin weer terugkeer na die somertyd van 20:30 SAT. David, ZS1DDK, doen ’n herleiding op 3 760 kHz en noem dat die bande eers later oopmaak. Dit beteken dat enige vêr stasies wat om 19:30 SAT op 3 760 kHz luister, sal vind dat die band nog toe is. Dié bulletin is daar vir almal wat belangstel in noodkommunikasie in Suider-Afrika en daar is gereelde inroepe vanuit ZS2, ZS3, ZS4, ZS5, ZS6 en V51. Rapporteer in op Woensdagaande op 3 760 kHz en sluit aan by Hamnet Wes-Kaap.

KOMPETISIENUUS

PEARS borg elke jaar twee kompetisies. Die jaarlikse PEARS HF-kompetisie vind op Sondag 6 Desember plaas vanaf 14:00 tot 18:00 SAT op 40 en 80 meter. Die PEARS Nasionale BHF/UHF-kompetisie word op 15 tot 17 Januarie 2010 gehou. Meer inligting volg in toekomstige bulletins.

Die Antieke Draadloosvereniging se HF QSO-geselligheid. Die kompetisiekomitee het die uitslae bekend gemaak van die Antieke Draadloosvereniging se HF QSO-geselligheid gehou op 10 en 11 Oktober:
AM
1e Jan Botha, ZS4JAN, met 213 punte;
2e Don Radford, ZS5DR, 195; en
3e Marius Preston, ZS4MP, 56 punte.
ESB
1e Jan Botha, ZS4JAN, 354;
2e Rob Cohen, ZS5LA, 168; en
3e Marius Preston, ZS4MP, met 131 punte.
Ons dank aan almal wat deelgeneem het en dit ’n lekker naweek gemaak het. Die sertifikate sal eersdaags gepos word.

Die ZS6JVT 40-meter HF-kompetisie. Die kompetisie is taamlik goed ondersteun; maar daar was ‘n swak indiening van logstate – slegs 10 is ontvang, waarvan een gebruik is as `n kontrolestaat en ‘n ander is gediskwalifiseer.
ZS/ZR-groep
1e Andrew Mans, ZR3AM (20 jaar oud), 167 punte;
2e Mitchell Mynhardt, ZS6YH (12 jaar), 129 punte;
3e Phillip Cronje, ZS6JPC (16 jaar), 52, en
4e Tiaan van Eeden, ZS6TVE (16 Jaar) en Wessels Welgens, ZR6WEW (16 jaar): 38 punte.
ZU-groep
1e Hugo Coetzee, ZU3H (15 jaar), 97 punte;
2 e Ruan Maritz, ZU3R (16 jaar), 62 punte, en
3 e Jean-Pierre Coetzee, ZU6PJ (9 jaar), met 58 punte.
Baie geluk en dankie aan die jong lede wat deelgeneem het – die sertifikate sal binnekort gepos word. Mnr. Chris Steinman, hoof van die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster, het die gelukstrekking gedoen. Baie geluk aan Mitchell Mynhardt, ZS6YH, wie se naam getrek is. Die prys sal binnekort gepos word. Die leuse van ZS6JVT is heel gepas: “Die jeug streef na hoë gehalte tegnologiese vooruitgang”.

KLUBNUUS

Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 SAT op Saterdag 5 Desember by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Willem by 082 890 6775.

Die Port Elizabeth Amateurradiovereniging (PEARS) hou ’n gelukstrekking vir ’n ICOM IC718. Hierdie trekking is oop vir alle gelisensieerde radioamateurs en hulle nooi lede van ander klubs om deel te neem. Kaartjies kos R50 elk en kan bestel word by Clive, ZS2RT. Clive kan gekontak word by 041 367 3203 of cfife@absamail.co.za. Daar is nog kaartjies oor, so bespreek spoedig. Die trekking vind op 18 Desember plaas en die wenner sal op Sondag 20 Desember bekend gemaak word. Iemand gaan ’n nuwe HF-stel vir Kersfees kry. Onthou, kaartjies is slegs R50 elk.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Gelukkig het twee sonvlekke gedurende die week hul verskyning gemaak.
20- en 40 m is die beste keuses vir DX. In die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en aande gaan toestande na Europa bruikbaar wees. Kontakte met Nieu-Seeland en Australië gaan uitdagend wees. Gedurende die middae is daar goeie kanse vir 15 m-kontakte met die VSA.
Smiddae en vroegaande gaan toestande op 15- en 20 m na Brasilië goed wees.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m geskik wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m begin weer om van sy aansien te herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Om SARL-nuus af te sluit – DIT IS ALLES GRIEKS VIR MY

Vra enige hoërskool-fisikaleerder en hy sal u vertel elektrone beheer feitlik alles wat ons doen. Bewegende elektrone word ‘n stroom genoem, en radiogolwe, waarvoor ons radioamateurs so lief is, word veroorsaak deur hoëfrekwensie-elektrone wat in antennageleiers vloei. Dink aan ’n 40 m-golf as ’n toevallige toeris wat êrens heen op reis is. Maar hoe om daar te kom? Dit benodig ’n vervoermiddel – en die elektrone voorsien dié vervoer.
Ons gebruik radiosenders om elektrone in antennas te laat resoneer – om radiogolwe te skep – en weg te stuur – moontlik na ’n skaars DX-bestemming. Daar aangekom, sit dié radiogolwe op hulle beurt weer elektrone in ’n ander antenna aan die beweeg. Die stroom bewegende elektrone word versterk en bereik die ontvangspunt – en ’n QSO word gemaak.
Maar waarom noem ons hulle elektrone? Die ou Grieke het opgemerk dat ambersteen, as dit met ’n velletjie gevryf word, klein voorwerpe aantrek. Behalwe vir weerlig, word dit beskou as die mens se vroegste ervaring van elektrisiteit. In die jaar 1600 het die Engelse fisikus, William Gilbert – in sy verhandeling De Magnete – ’n nuwe Latynse term “electricus” geskep om na hierdie eienskap van die aantrekking van klein voorwerpe te verwys. Beide ‘elektries’ en ‘elektrisiteit’ is afkomstig van Latyn. (Uit ‘n ARRL-nuusbrief.)

DAGBOEK VAN GEBEURE

22 November – Vanaand om 19:30 SAT – Integnet met SumbandilaSat as tema;
30 November – sluitingsdatum vir nominasies vir SARL-Raadslede;
5 Desember – Wesrand-snuffelmark;
6 Desember – PEARS HF-kompetisie;
18 Desember – sluitingsdatum vir die PEARS-gelukstrekking;
15 Januarie 2010 – sluitingsdatum vir die opstelkompetisie;
15 - 17 Januarie 2010 – PEARS BHF/UHF-kompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die redakteur was Jannie, ZR6PHD.
Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003